Marikana-geweld was 'onverwags'
2013-02-13 15:11
Rustenburg – Die geweld wat verlede jaar tydens 'n staking deur mynwerkers gesien is, kon nie voorspel word nie, het die Farlam-kommissie van ondersoek Woensdag gehoor.
"Niemand kon voorspel dat die stakende werkers diegene gaan doodmaak wat nie staak nie," het Senzeni Zokwana, president van Num, gesê.
"Ons het ons lede gevra om terug te gaan werk toe – ons kon nie die geweld voorspel nie. Dit was hul reg om te staak, maar daardie reg kon nie ten koste van die regte van ander werkers uitgeoefen word nie."
Zokwana is by die burgersentrum in Rustenburg deur Tshepiso Ramphile onder kruisverhoor geneem. Ramphile verteenwoordig die families van die sekuriteitswagte wat in Augustus verlede jaar tydens die staking vermoor is.
Hy het aan die kommissie gesê die vakbond het die werkers gevra om terug te keer werk toe, want die werkgewer het die reg om werkers af te dank wat onwettig staak.
Indien die situasie plofbaar was, moes die werkgewer die myn sluit, het hy bygevoeg.
Die vakbond het gevra dat die polisie nie moet onderhandel nie, maar verseker dat wet en orde gehandhaaf word wanneer die mynwerkers terugkeer werk toe, omdat hulle vrees vir hul lewens, het Zokwana gesê.
Hy het gesê Num het beheer oor sy eie lede verloor, maar het heeltemal beheer verloor toe sommige lede besluit het om die vakbond te verlaat en aan die staking deel te neem.
"Ons het nie net beheer verloor nie, ons het lewens verloor."
Die kommissie het gehoor dat sommige mynwerkers om die lewe gebring is omdat hulle leiers was en nie omdat hulle teruggekeer het werk toe nie.
Zokwana het gesê dit was ook die verantwoordelikheid van die myn om die mynwerkers wat teruggekeer het, se veiligheid te verseker.
Die kommissie ondersoek die geweld waarin 44 mense tydens ‘n onbeskermde staking by die myn dood is.
Altesaam 34 stakers is op 16 Augustus doodgeskiet, terwyl 78 ander gewond is toe polisiebeamptes op hulle geskiet het om die stakers uiteen te jaag.
Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte, is die vorige week dood.
Die ondersoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA