Marikana: Sekuriteitswag se tong uitgesny
2012-11-06 17:05
Video - Marikana-ooggetuies vertel van 'marteling'
Ooggetuies van die Marikana-slagting het voor die Farlam-kommissie getuig dat hulle deur die polisie gemartel is. Kyk hier na 'n video.
KYK
Rustenburg – ‘n Sekuriteitswag wat in Augustus tydens geweldadige betogings in Marikana dood is, se tong was uitgesny, het die Farlam-kommissie Dinsdag gehoor.
Die inligting vorm deel van ‘n voorlegging deur kol. Victor Visser oor die gebeure wat gelei het tot die skietery by Marikana op 16 Augustus. Altesaam 34 mynwerkers is in die geweld dood.
Altesaam 10 mense, insluitend twee sekuriteitswagte en twee polisiebeamptes, is die week voor die voorval dood. Nog twee mense is ná die skietery dood.
Visser het ‘n tydlyn van die gebeure aan die kommissie voorgelê.
Die kommissie, wat gelei word deur die afgetrede regter Ian Farlam, is aangestel om die slagting by Marikana te ondersoek.
Visser het veral verwys na die konflik tussen die vakbonde Num en Amcu.
Hy het bygevoeg dat die spanning baie hoog geloop het op 12 Augustus, ná verskeie mynwerkers die vorige paar dae gewond is.
Die polisie het in daardie stadium inligting ontvang dat daar planne was om die plaaslike Num-kantore af te brand. Meer polisiebeamptes is daarna in die gebied ontplooi.
Die kommissie het ook na foto’s van die wagte se lyke gekyk. Een van die wagte se tong was uitgesny.
‘n Ander foto het gewys hoe ‘n groep betogers van die toneel vlug met ‘n gesteelde haelgeweer.
Die ondersoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA