Marikana: Kommissie hoor oor brandstigting, wapens
2012-11-20 17:20
Johannesburg – Stakende mynwerkers het hulle uit die voete gemaak ná hulle Lonmin-voertuie aan die brand gesteek het met sekuriteitswagte in, het die Farlam-kommissie Dinsdag gehoor.
‘n Lid van die span wat 'n video van die voorvalle vertoon het, het aan die kommissie gesê dat die werkers twee voertuie met sekurteitswagte in aan die brand gesteek het, waarna hulle met 'n gesteelde haelgeweer op die vlug geslaan het.
Altesaam 34 mynwerkers is op 16 Augustus doodgeskiet toe die polisie op hulle losgebrand het tydens gewelddadige betogings buite Lonmin se myn in Marikana.
Die kommissie, wat gelei word deur die afgetrede regter Ian Farlam, is aangestel om die voorval te ondersoek.
In die weke voor die aanval is 10 mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte, dood tydens gewelddadige betogings by die myn.
Die beeldmateriaal wat Dinsdag gewys is, is glo van ver af geneem en was nie baie duidelik nie.
Die video's het ook gewys hoe werkers op 13 Augustus geweier het om hul wapens aan die polisie te oorhandig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA