Marikana: Kommissie het reeds 'nuwe' video gesien
2013-01-29 12:28
Rustenburg – Ian Farlam, voorsitter van die kommissie wat die Marikana-sterftes ondersoek, sê sy kommissie het reeds die selfoonbeeldmateriaal gesien wat polisiebeamptes geneem het.
“Die kommissie het in November reeds hierdie beeldmateriaal gesien en ‘n verklaring sal later vandag uitgereik word,” het hy gesê.
Die video is die naweek deur Brittanje se Channel 4 News uitgereik.
Die kanaal het selfoonvideo's uitgesaai wat na bewering op 16 Augustus 2012 deur twee polisiebeamptes opgeneem is.
Die enigste beeldmateriaal wat tot dusver aan die media beskikbaar was, was beeldmateriaal wat deur EWN, eNCA en CNN geneem is.
Die video wat deur die polisiebeamptes geneem is, dui daarop dat baie van die mynwerkers 'n “paar honderd meter weg” van die media af op 'n koppie dood is, het Channel 4 berig.
“Die [mynwerkers] het daarheen gevlug na die aanvanklike skietery, om skuiling te soek,” verduidelik die verslaggewer in die insetsel.
In die polisievideo kan gehoor word hoe iemand uitroep, “Wag, moenie skiet nie! Moenie skiet nie!”. Dit vind plaas ná 'n mynwerker verby die polisie hardloop. Skote klap sekondes later.
Die beampte wat die video neem loop dan na waar 'n man bewegingloos op die grond lê. “Daai motherf****r. Ek het hom ten minste 10 keer geskiet,” sê een van die beamptes in die video.
Die slagoffer word later as 'n 26-jarige mynwerker geïdentifiseer wat 12 keer geskiet is.
Die kommissie se sittings duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA