Marais het 2de vrou glo mishandel
2009-08-28 07:59
Jackie Kruger
Kaapstad - Die vermoorde Stilbaaise sakeman Basie Marais het sy tweede vrou, Alta van Aardt, kort ná hul huwelik begin slaan. Hy het ook sy dogter, Desiray McKirby, gemolesteer, het Van Aardt gister ter versagting van 'n vonnis op Marais se derde vrou getuig.
Die slagoffer se derde vrou, Ruby Marais, haar huiswerker, Hester Afrika, dié se suster Elizabeth Laverdien en Ricardo Piedt is dié week skuldig bevind aan die huurmoord op Marais (56) in 2006.
Volgens Van Aardt was daar “baie slegte tye in die huwelik”, wat 10 jaar geduur het. Marais het eenkeer haar lip oopgeslaan en op ’n keer ook haar kop voor ’n familievriend en hul huiswerker in die grond getrap, het sy getuig.
Volgens Van Aardt het Marais buite-egtelike verhoudings met al haar vriendinne gehad. In Phalaborwa het hy prostitute vir hom en sy vriende gereël en ’n ander keer het hy gedreig om sy dogter en Van Aardt se dogter dood te skiet.
Volgens nog ’n getuie (vir Marais), Ina Swart, sou sy Marais “ ’n mes in die bors gegee het” as hy haar man was.
Regter Daniel Dlodlo het Marais se verweer dat sy mishandel is, verwerp. Die saak word vandag hervat. Marais, Afrika, Laverdien en Piedt bly in aanhouding.
- Die Burger