Maqubela ontslaan, onder polisiebewaking
2011-08-04 14:08
Johannesburg – Thandi Maqubela, die moordbeskuldigde weduwee van die vermoorde waarnemende regter Patrick Maqubela, is uit ‘n Johannesburgse hospitaal ontslaan, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap Donderdag gesê.
“Ek kan bevestig dat sy ontslaan is,” het Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder vir die NVG, gesê.
Ntabazalila sê Maqubela is “onder polisiebewaking” in Johannesburg.
Hy sê sy sal na Kaapstad geneem word om in die hof te verskyn.
Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sê sy word by die Brixton-polisiestasie aangehou.
Van Wyk sê Maqubela is Maandag uit die hospitaal ontslaan en onmiddellik na die Brixton-polisiestasie geneem.
“Sy sal Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn op aanklagte van moord en minagting van die hof,” het Van Wyk in ‘n e-pos gesê.
Maqubela het verlede Maandag haar borgtogvoorwaardes oortree toe sy nie in die hof verskyn het nie.
Ntabazalila sê dit sal in die hof onthul word hoekom sy aanvanklik in ‘n hospitaal opgeneem is.
Mnr. Maqubela is op 5 Junie 2009 dood in sy luukse woonstel in Bantry Bay, Kaapstad, gevind.
Sy vrou is in Junie 2010 by haar huis in Sandton in hegtenis geneem ná bewerings dat die regter vergiftig is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA