Manyi se opmerking oor bruinmense ontlok reaksie
2011-02-24 23:00
Johannesburg – Die Demokratiese Alliansie (DA) het Donderdag uitgevaar teen die opmerkings wat Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, teenoor bruinmense in die Wes-Kaap gemaak het.
“Sy siening dat daar glo ‘te veel bruinmense in die Wes-Kaap’ is rassisties en dui daarop dat hy nie die geskiednis en mense van hierdie beeldskone land verstaan nie,” het die DA in ‘n verklaring bekend gemaak.
“Ten spyte van wat Mnr. Manyi mag dink kan Suid-Afrikaanse burgers woon net waar hulle wil, maak nie saak van hul velkleur.”
Manyi het dié kontorversiële opmerking in Maart 2010 tydens ‘n onderhoud op KykNet gemaak. Hy was toe nog direkteur-generaal van arbeid.
Die onderhoud is Donderdag deur Solidariteit op YouTube gelaai, waarna dit vele reaksie ontlok het.
“Laat ek net ‘n laaste ding oor bruinmense sê. Dit is belangrik dat hulle besef dat Suid-Afrika in sy geheel aan hulle behoort en nie net die Wes-Kaap nie,” het Manyi tydens die onderhoud gesê.
“Hierdie sametrekking in die Wes-Kaap werk nie vir hulle nie. Hulle moet versprei na die res van die land. Hulle is volop in daardie gebied en moet bietjie versprei,” het hy glo gesê.
In die res van die onderhoud het Manyi glo gesê dat Suid-Afrika gesien moet word as ‘n see waar daar groot aanvraag is vir bruinmense.
Volgens Manyi het hy tydens die onderhoud namens die Black Management Forum (BMF) gepraat.
“Ek het net die regering se mening oorgedra,” het hy Donderdag gesê.
“Dit was die siening van die BMF. Ek het nie persoonlike menings oor die kwessie nie. Ek praat as voorsitter van die BMF en regeringswoordvoerder.”
“Hierdie het niks met my persoonlik te doen nie. Ek was maar net die boodskapper. Hierdie het niks te make met Jimmy Manyi nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA