Manyi praat nie meer oor OB-verslag
2011-07-25 16:07
Pretoria – Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, mag nie meer kommentaar lewer oor die Openbare Beskermer (OB) se verslag wat onlangs bekend gemaak is nie, het hy Maandag gesê.
Manyi het op 'n mediakonferensie in Pretoria gesê alle vrae oor adv. Thuli Madonsela, OB, se verslag is "gesentraliseer" met die aanstelling van Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder.
Madonsela het vroeër vandeesmaand die tweede verslag oor die twee omstrede huurkontrakte van polisiekwartiere in Durban en Pretoria uitgereik. Sy het bevind dat genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, en Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, hulle aan wanadministrasie skuldig gemaak het.
Manyi het verlede week aan The Star gesê die regering dink nie Cele en Mahlangu-Nkabinde het enigiets verkeerd gedoen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA