Manyi nou tjoepstil oor Manuel-aanval
2011-03-04 08:08
Kaapstad - Jimmy Manyi, omstrede kabinetswoordvoerder, het Donderdag geweier om enige vrae oor Trevor Manuel se aanval op hom te beantwoord.
Manyi het die tweeweeklikse kabinet-inligtingsessie by die Uniegebou in Pretoria behartig en het uit die staanspoor gesê hy gaan geen vrae oor die twis duld nie.
Dit volg op die ope brief waarin Manuel, senior kabinetsminister, Manyi Woensdag as ’n “rassis in die ergste graad” en “soos H.F. Verwoerd” bestempel het.
Manyi het vroeër gesê daar bestaan ’n oorkonsentrasie bruin mense in die Wes-Kaap, terwyl die omstrede wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming onder sy voogdyskap as direkteur-generaal van arbeid geskryf is. Dié wet sal volgens die vakbond Solidariteit beteken dat tot ’n miljoen bruin mense in die Wes-Kaap hul werk kan verloor.
“Ek het gister (Woensdag) gereageer deur te sê ek het geen kommentaar nie.
“Ek het steeds geen kommentaar nie. Vandag is ek kabinetswoordvoerder.
“Ek weet sommige van julle is in baie ander kwessies geïnteresseerd, maar ek sal nie toelaat dat die kabinet se blootstelling ingeperk word nie... ek gaan geen vrae daaroor beantwoord nie,” het Manyi gesê voordat hy die kabinetsverklaring voorgelees het.
Dit het egter nie daar gebly nie. Tien van die 20 vrae wat tydens die inligtingsessie toegestaan is, was oor die Manuel-brief en die res die polisie se “inval” op die openbare beskermer.
Manyi het wel gesê Manuel het die kabinetsvergadering bygewoon en sy hand “vriendelik” geskud.
Oor of hy sy taak met selfvertroue kan uitvoer, gegewe dat ’n senior minister oënskynlik vertroue in hom verloor het, het Manyi geantwoord: “Ek is vol selfvertroue, kan jy dit nie op my gesig sien nie?”
Hy wou nie sê of hy, soos met die bruin gemeenskap, die plaaslike Indiër-gemeenskap om verskoning gaan vra nadat die DA die aandag gevestig het op ’n uitlating waarin hy hulle ook as oorverteenwoordig bestempel het nie.
Manyi kon voorts geen insae in kabinetsgesprekke of konteks aan sommige besluite gee nie.
Hy het volgehou “die kabinet moet vertrou” word en dat almal gerus kan wees “die kabinet werk hard” en “dra almal se belange op die hart”.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger