Manyi: eNews het uitsending 'gesensor'
2012-05-25 13:03
Johannesburg – Die regering bly by sy standpunt dat die eNews-kanaal homself “gesensor” het deur nie te wys hoe adv. Gcina Malinde in die hof huil nie, het die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, Vrydag gesê.
“Ons neem kennis van eNews se opportunistiese beroep dat die regering se verklaring, wat Vrydag rakende die sensor van beeldmateriaal uitgereik is, herroep word,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Malindi het Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof in trane uitgebars terwyl hy pres. Zuma en die ANC verteenwoordig het in hul aansoek dat beelde van Brett Murray se skildery The Spear verwyder moet word.
Die skildery beeld Zuma uit my sy gulp oop en sy penis wat blootgestel is.
Die regering is van mening dat deur nie die beeldmateriaal te wys nie, het die kanaal uitgemis op die kans om die gevoel van "vernedering en swartsmeerdery van pres. Zuma, sy kantoor en die Afrika-kultuur te wys, wat deur miljoene Suid-Afrikaners gedeel word ".
Hy sê die regering is ook teleurgesteld dat regter Neels Claassen verkeerdelik ingelig is dat die voorval wel op eNews uitgesaai is, terwyl dit nooit gewys is nie.
Met Malindi se terugkeer na die hof het Claassen beveel dat beeldmateriaal van die voorval nie gewys mag word nie.
Manyi het gesê: “In die lig hiervan staan die regering by sy standpunt dat eNews wel die uitsending gesensor het voor die regter se besluit. Die regter se besluit sal nietemin gerespekteer word.”
Kort nadat die hof verdaag het om Malindi toe te laat om ‘n blaaskans te neem, het Manyi ‘n verklaring uitgereik om te sê die regering is van mening dat e.tv bevooroordeeld is en nie ‘n ware weerspieëling van die hofverrigtinge uitgesaai het nie.
eNews het later verduidelik hy is voorheen gekritiseer deur die regbank omdat hy sensasionele materiaal uitsaai rakende kwessies in die hof.
“Eerstens respekteer eNews die wet. Adv. Malindi se ineenstorting was onverwags en het ons span onbehoed betrap. Die besluit is geneem om nie die voorval uit te saai voordat ons duidelikheid van die regters het nie,” het die kanaal se groephoof vir nuus, Patrick Conroy, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter