Manuel sê nee vir ANC-benoeming
2012-12-16 09:45
Johannesburg – Trevor Manuel, minister van beplanning, het ’n benoeming geweier vir die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), berig City Press.
Manuel het gesê hy wil 'n ander rol speel en glo dat die ANC se waardes vernietig word deur die huidige wedywering om leiersposisies.
"Ná 21-en-’n-half-jaar vra jy jouself of jy steeds honger genoeg is,” het Manuel gesê.
“Dis tyd vir jongmense om deur die stelsel te kom. Ek wil probeer om te mentor, ek voel daar is ’n plig om dit nou te doen.
“Wanneer alles oor mededinging gaan, vernietig dit ’n mens se waardes (soos wat nou gebeur). En as dít gebeur, kan ’n mens nie put uit die vaardighede en kundigheid nie. Dít was duidelik by Polokwane."
Hy het gesê jonger leiers moet oorneem, dat die party swak beleid opstel en dat die parlement nie die mas opkom nie.
Manuel het gesê sy besluit is ’n "beginselsaak".
Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, en Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het ook 'n benoeming geweier vir die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het die koerant berig.
Manuel het verder gesê in die wêreld van politiek “voer logika nie altyd die botoon nie”.
Die ANC se konferensie begin Sondagoggend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA