Manuel se brief aan Manyi, 'die rassis'
2011-03-04 09:13
Beste Jimmy
Kom ons los titels uit hierdie gesprek, ’n gesprek wat nodig is. So, kom ons vergeet vir eers dat ek ’n kabinetsminister en jy op die vlak van ’n direkteur-generaal in dieselfde regering is. Ek wil met jou praat as ’n mede-Suid-Afrikaner.
Ek wil jou aandag daarop vestig dat jou stellings oor “’n oorkonsentrasie van bruin mense” teen die letter en gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet is, asook teen die waardes wat voorgestaan word deur die Black Management Forum (BMF) sedert sy ontstaan. Dit is ’n raaisel dat jy hierdie stellings gemaak het terwyl jy ’n direkteur-generaal (DG) van arbeid en president van die BMF was.
Dit is ’n raaisel omdat ek moet aanneem dat jy verkies is tot president van die BMF sonder dat jy die geskiedenis en grondwet van daardie organisasie geken het; en dat jy as DG aangewys is sonder dat jy die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika of die wetgewing wat deur die departement van landbou geadministreer word, geken het.
Ek sien in ’n nuusverklaring van die regering se kommunikasie- en inligtingsdiens (GCIS) dat mnr. Vusi Mona onder sý naam skryf dat jy om verskoning vra vir jou stelling omdat “sommige mense aanstoot kon geneem het”. Met hierdie steeds negatiewe gedrag bevestig jy net die waardes wat jy het, of meer presies, die gebrek aan waardes.
Eerstens: Waarom mnr. Mona die verklaring moes uitreik, is onbegryplik omdat jy hoegenaamd nie die rassistiese sentimente kwytgeraak het as ’n amptenaar van die GCIS nie.
Tweedens: Dat jy nie die morele oortuiging gehad het om ’n openbare apologie aan te bied nie, sê baie oor jou akute gebrek aan oordeel.
Derdens: Dat daar in die verklaring net om verskoning gevra word vir die feit dat “sommige mense aanstoot kon geneem het”, sê vir my dat jy klaarblyklik geen benul het hoe ongrondwetlik en moreel aanstootlik jou uitlatings is nie.
Hierdie “goed” (aangesien die ANC-verklaring lui dat jou uitlatings mense tot blote hulpbronne reduseer), volgens jou “die bruines wat oorgekonsentreer is in die Wes-Kaap”, is die seuns en dogters van diegene wat die eerste oorloë gevoer het teen kolonialisme van die Portugese, Nederlanders en die Britte wat aan ons kus geland het.
Hierdie “goed” wat jou so irriteer, sluit baie mense in wat reuse-opofferings in die stryd teen apartheid gemaak het in ’n tyd toe mense met uitgangspunte soos Jimmy Manyi s’n in die swaarkry van ballingskap geskitter het in hul afwesigheid, soos ook in die gevegte by die versperrings en in die apartheidstronke. Terloops, wat het JY in die oorlog gedoen, Jimmy?
Ek wil dit aan jou stel dat hierdie stellings van jou ’n rassis na die gelyke van H.F. Verwoerd maak. Ek wil dit aan jou stel dat jy net so dink soos diegene wat onder apartheid dinge gedoen het, nooit net tevrede om die pyn van gedwonge verskuiwings en die groepsgebiedewet uit te deel nie, maar wat hele taalgroeperings omhein het sodat aaklige afwykings, soos Soshanguve, geskep is om “nie-Tswanas” in hul eie klein kampies in die groter Mabopane te omhein.
Mnr. Manyi, jy mag swart wees, of miskien is jy nie, want jy aanvaar nie daardie beskrywing nie en verkies om “net ’n Xhosa” te wees, maar watter beskrywing jy ook al kies, ek wil dit aan jou stel dat jou gedrag dié van ’n eersterangse rassis is. Ek verwys na jou op dié manier omdat ons, wat ons weg na die struggle gevind het deur die Swartbewustheidsbeweging, altyd die ontstaan van die BMF verstaan en ondersteun het net soos ons ANC-dokumente verstaan en ondersteun het wat verwys het na “swartes in die algemeen en Afrikane in die besonder”.
Ongelukkig het die term “swart” vir jou heeltemal ’n ander betekenis.
As gevolg van jou gedrag word mense soos ek in die ANC en in die regering gevra om te verduidelik wat die opstellers van die wysigings aan die Wet op Billike Indiensneming in gedagte gehad het. Ons was daar tydens die debat oor die eerste wetsontwerp van die Wet op Billike Indiensneming; ons was heeltemal tevrede dat die “aangewese groepe” sou insluit “swart mense”, wat beteken “Afrikane, bruin mense en Indiërs” omdat dit gedien het as bewys van ons grondwetlikheid en as die vrugte van ons struggle.
Toe jy uit hoofde van jou pos as voorsitter van die Kommissie vir Billike Indiensneming eienaardige uitlatings gemaak het wat daarop gerig was om die basiese uitgangspunte van die wet weg te kalwe, moes ons waaksamer gewees het. Die regverdige en grondwetlik verpligte voorsorg vir die herstel van onreg is nie en kan nooit ’n verskoning wees om rassisme te laat voortbestaan nie.
Nou, in die lig van die uitlatings wat jy gemaak het in die tyd toe jy die DG van arbeid was, en gegewe die feit dat die wysigings aan die Wet op Billike Indiensnemings in jou tyd opgestel is, het ek ’n gevoel dat jou rassisme die hoogste vlakke van die regering binnegedring het. Tel my onder diegene wat, ten spyte van my posisie, seker sal maak dat die parlement optree na die letter en gees van ons Grondwet wanneer die wysigings aan die wet aanvaar moet word.
Ek het nog nooit ’n geveg benader met die etiket wat apartheid om my nek wou hang nie, maar ek sal veg teen die skade wat jy wil aanrig. Wanneer ek dit doen, is dit nie as ’n bruin mens nie, maar as ’n nie-rassis wat vasberade is om seker te maak dat ons groter beweging en ons Grondwet nie verwater word deur die optrede van rassiste soos jy nie.
Ek was vroeër al bereid om opofferings te maak vir die totstandkoming van ’n gemeenskap soos aangedui in die Vryheidsmanifes. Dit is nie ’n saak wat geëindig het nie. Dit was net eenvoudig nie sedert 1990 vir my nodig om dieselfde soort opofferings te maak nie. Ek moet my bereidwilligheid verklaar om op te offer soos verwag word in die openingsinne van die Vryheidsmanifes dat “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”.
Ek weet nou van wie Nelson Mandela gepraat het toe hy uit die beskuldigdebank gesê het hy het geveg teen wit oorheersing en dat hy geveg het teen swart oorheersing. Jimmy, hy het gepraat van gevegte teen mense soos jy.
Die uwe
Trevor A. Manuel
- Volksblad