Manuel hét op Britse TV na Malema verwys
2011-10-09 08:09
Johannesburg – Minister Trevor Manuel se kantoor het Saterdag teenoor Rapport ontken dat hy op Britse TV gesê het die ANC-jeugliga se leier, Julius Malema, moet oop kaarte speel oor sy geldsake – maar ’n bandopname toon Manuel hét dit gesê.
Rapport het Saterdag navraag gedoen by Manuel se kantoor nadat ’n berig oor sy uitlating op Britse TV in The Star verskyn het. Die betrokke onderhoud met Manuel is Vrydagaand in Brittanje deur Channel 4 uitgesaai as deel van sy aktualiteitsreeks Unreported World.
Dumisa Jele, Manuel se woordvoerder in die beplanningskommissie, het gesê: “Die minister het in die program gereageer op korrupsie met huise in die Diepsloot-township (noord van Johannesburg)… Dit moet in dié konteks gesien word. Dit het nie oor Malema gegaan nie.”
Rapport het egter sélf Saterdag na die TV-episode, getiteld Trouble in the Townships, gekyk.
In die onderhoud sê Manuel aan die joernalis Krishnan Guru-Murthy “alle korrupsie is diefstal van die armes”.
Op ’n stelling van Guru-Murthy dat korrupsie endemies aan Suid-Afrika is, sê Manuel: “Ek dink die beplanningskommissie gee toe dat daar te veel korrupsie is, die skuldigbevindingskoers te laag is en dat ondersoeke daarna swak is. Maar elke voorval is een voorval te veel.”
Guru-Murthy vra Manuel dan of hy dink daar is hoëvlak-korrupsie in Suid-Afrika, waarop Manuel “ja” antwoord.
Die joernalis vra dan wat Manuel van ’n “figuur soos Julius Malema dink en of Malema sy geldsake moet oopmaak vir nadere ondersoek”.
Manuel sê dan: “Ek dink hy moet. Ek dink almal van ons wat invloed oor politieke prosesse het, moet oop wees vir noukeurige ondersoek.”
In die program is daar ook ’n insetsel van ’n mediakonferensie by Luthuli-huis in Johannesburg waar Guru-Murthy dit aan Malema stel dat mense in die townships wonder hoe hy ’n spoghuis (van R16 miljoen) in Sandton kan bou terwyl hulle dekades lank vir Hop-huise moet wag.
Malema antwoord dan: “Waar ek geld kry om só ’n herehuis in só ’n kort tyd te bou? Dit het niks met jou te doen nie. Bepaal jou by jou eie sake.”
Guru-Murthy sê dan: “Maar jy is hier om dit te regverdig?”
Waarop Malema sê: “Ek het nie hierheen gekom om dit te regverdig nie. Ek het hierheen gekom om jou te vertel om jou by jou eie sake te bepaal. Ek is nie hier om my aan jou te regverdig nie.”
Malema is verlede jaar voor ’n tugverhoor gedaag nadat hy onder meer ’n ander Britse joernalis ’n “bloody agent” genoem en hom uit Luthuli-huis verjaag het.
Malema se tugverhoor sou die afgelope week voortgesit word, maar is tot eerskomende Saterdag uitgestel nadat hy glo skielik siek geword en in ’n hospitaal in Limpopo opgeneem is. Sapa berig hy is Saterdag ontslaan.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport