Mans vas vir reeks rooftogte in Wes-Kaap
2012-01-19 16:57
Johannesburg – Ses mans wat van ‘n reeks rooftogte verdink word, is in Nyanga, Kaapstad, in hegtenis geneem, het die polisie Donderdag gesê.
Ao. November Filander sê die polisie het leidrade opgevolg en Woensdag vyf mans in ‘n huis aangekeer. Hy sê die sesde man is Dinsdag vasgetrek.
Die mans staan bekend as die Avanza-bende. Hulle word sedert Augustus deur die polisie gesoek.
“Hulle het talle gewapende rooftogte en huisrooftogte in die Khayelitsha- en Nyanga-gebiede uitgevoer,” het Filander gesê.
“Die polisie het talle gesteelde waardevolle artikels in die huis gevind, insluitende ‘n televisiestel, sewe selfone, ‘n 9 mm-pistool en ‘n Toyota Avanza wat in die agterplaas geparkeer was.”
Filander sê die voertuig is glo gebruik om tydens rooftogte weg te ry.
Die mans – tussen die ouderdomme van 20 en 30 – sal Vrydag in die Athlone-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA