Mans vas vir grusame plaasmoord
2010-12-04 19:30
Johannesburg – Vier mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n vrou doodgeslaan en haar man ernstig beseer het op hul plaas in die Koster-distrik van die Noordwes.
Volgens ao. Sam Tselanyane het polisie die vier verdagtes Vrydagaand in Lethabong vasgetrek.
Een van die verdagtes was voorheen ‘n werknemer op die plaas.
Christiaan Stephanus Erasmus en sy vrou Marthie Magdalena, beide 63 jaar oud, is Donderdagaand omstreeks 18:30 op hul plaas aangerand.
Hulle was besig om by hul huis in te loop toe hul deur drie onbekende mans verras is terwyl ‘n vierde man glo by die hek gewag het.
Die vrou is na bewering na die slaapkamer gesleep waar haar hande en voete vasgebind is. Die mans het haar na bewering met ‘n hamer doodgeslaan wat later op die toneel gevind is.
Volgens Tselanyane is haar man aan ‘n stoel in die kombuis vasgebind en daarna aangerand.
Die mans het glo die huis deursoek en vyf vuurwapens gesteel asook klere, juwele, ‘n mikrogolf, Kersgeskenke, selfone en sowat R15 000.
Toe die mans in hegtenis geneem is, is slegs R1500 van die kontant en sekere van die juwele in hul besit gevind.
Die res van die besittings is by ‘n huis in Bospoortdam gevind waar die pa van een van die mans werk.
Die vier mans, tussen die ouderdomme van 16 en 24, sal Maandag in die Koster-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA