Mans vas ná rooftog by funksie
2011-11-14 17:58
Johannesburg – Sewe mans is in hegtenis geneem nadat gaste by ‘n familie-funksie in KwaZulu-Natal met vuurwapens aangehou en beroof is, het die polisie Maandag gesê.
Die funksie, wat in Kloof buite Durban gehou is, is Saterdagmiddag onderbreek toe sewe gewapende mans gaste aangehou het, het lt. kol. Vincent Mdunge gesê.
Hulle het selfone, juweliersware, bankkaarte, plasma-televisieskerms, skootrekenaars en ander toebehore gesteel.
“Al sewe mans is opgespoor en Saterdagaand in Chesterville in hegtenis geneem,” het hy gesê.
Die polisie het vier ongelisensieerde vuurwapens en al die gesteelde items gevind.
Die mans word van gewapende roof met verswarende omstandighede aangekla en sal Dinsdag in die Pinetown-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA