Twee vas ná hulle ANCYL-beampte agtervolg
2012-01-25 17:57
Polokwane – ‘n Polisiebeampte en ‘n soldaat is in Polokwane in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n beampte van die ANC-jeugliga (ANCYL) vir talle dae agtervolg het, het die polisie in Limpopo gesê.
“Ons het hulle in hegtenis geneem nadat ons ‘n oproep ontvang het dat die klaagster se motor [deur ‘n ander motor] agtervolg word,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
“Ons het ons lede Dinsdagaand ontbied om te gaan ondersoek instel en Woensdag was die twee verdagtes in hegtenis geneem.”
Die twee mans het Jacob Lebogo, provinsiale leier van ANCYL in Limpopo, na bewering agtervolg.
Die ANCYL beweer die voorval was deel van ‘n “politieke oorlog” in die provinsie. Die jeugliga sê ook die mans het Lebogo probeer intimideer voor die liga se provinsiale vergadering.
“Natuurlik voel ons onveilig, aangesien sommige van ons lede ook gedreig [en] deur onbekende mense na hul huise gevolg word,” het Frans Moshwane, voorsitter van die ANCYL in Limpopo, gesê.
Mulaudzi sê die polisie wil vasstel of die mans aan ‘n sindikaat wat politici in die provinsie terroriseer, gekoppel is.
Die mans was nie gewapen nie, maar talle “gevaarlike wapens” is in hul motor gevind.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA