Mans skuldig ná moord op Stellenbosch-boer
2012-09-14 10:00
Kaapstad – Drie mans is daaraan skuldig bevind dat hulle verlede jaar ‘n druiweboer van Stellenbosch op sy stoep doodgeskiet het, het ‘n koerant berig.
Cape Times berig Mfundiso Yese, Simamkele Mralaza en Cedrick Vusumzi Mphakathi is in die Kaapstadse hooggeregshof van die moord op Alberto Costa skuldig bevind.
Die mans is op aanklagte van moord en roof met die doel om te steel, skuldig bevind.
Regter André le Grange het bevind die skuldiges het vooraf bymekaar gekom om die rooftog te beplan.
Costa se moord op 18 Februarie 2011 het die boeregemeenskap te midde van ‘n rits inbrake en rooftogte in die gebied, op hol gejaag.
Die oorledene se vrou, Zelda, het aan die koerant gesê sy is nou ‘n enkelma van twee kinders en moet ook haar man se vier plase bestuur.
“... Dit maak nie saak wat met hulle [die moordenaars] gebeur nie; niks sal hom terug bring nie.”
Vizicelo Madolo, die vierde man wat van die moord op die boer skuldig bevind is, het in Junie ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Sy drie medepligtiges se vonnisoplegging sal volgende week begin.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA