Mans skuldig aan moord op ANC-hoë
2013-01-11 17:48
Johannesburg – Twee mans is Vrydag in Nelspruit aan die moord op die ANC-hoofsweep van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, Johan Holme Ndlovu, skuldig bevind, het die polisie in Mpumalanga gesê.
Bongani Mkansi, 29, en Moddy Khoza, 24, is skuldig bevind op aanklagte van moord, gewapende roof, en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie, het kol. Leonard Hlathi gesê.
Ndlovu is op 5 Januarie, 2011 naby sy huis in Thulamahashe in die Mhala-distrik doodgeskiet.
Ndlovu se vrou het hom destyds probeer bel, en 'n onbekende man het geantwoord, het Hlathi gesê.
"Die man het aangedui dat hy Ndlovu geskiet het en hom by Luphungu in Thulamahashe agtergelaat het. Hy het na bewering aan sy vrou gesê sy moet hom gaan haal, omdat hy nog leef."
Die familie het met 'n soektog in die gebied begin, en hom met dagbreek die volgende dag gevind. Sy motor en twee selfone was weg.
Vyf mans is twee dae later in verband met die moord in hegtenis geneem. Twee is later vrygelaat.
Khoza en Mkansi sal op 3 April vir vonnisoplegging verskyn. 'n Derde beskuldigde, Life Khoza, 23, is in Oktober 2011 tot 35 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA