Mans moet help om verkragting te stop – ANC
2013-02-08 08:42
Johannesburg – Mans moet help om verkragtings soos dié van Anene Booysen van Bredasdorp in die Wes-Kaap te stop, het die ANC gesê.
"Verkragting kan nie net 'n vroue-kwessie wees nie, mans moet ook 'n rol speel in die bekamping ten einde die belangrikste beginsel van ware geslagsgelykheid te bereik, soos uiteengesit in die ANC-grondwet," het Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, gesê.
"Die stem van mans moet hard en duidelik wees en ons soek regte mans om by ons susters in die vroueliga aan te sluit om slagoffers van verkragting by te staan."
Khoza het gesê niemand moet ooit moet ly soos Anene gely het nie.
Anene is verkrag, aangerand, vermink en vir dood gelaat. Sy is Saterdag met ernstige beserings na 'n plaaslike hospitaal geneem nadat sekuriteitswagte by 'n bouterrein op haar afgekom het. Sy is later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy Saterdagaand gesterf het.
Sy het die naam van een van haar aanvallers aan 'n familielid genoem voor sy gesterf het. Die man, Jonathan Davids (22), haar ekskêrel, is Saterdag in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Bredasdorp-landdroshof op aanklagte van verkragting en moord verskyn. Die saak teen hom is tot Dinsdag uitgestel. Nóg 'n man is intussen in hegtenis geneem.
Sisonke Msimang, voorsitter van die Sonke Gender Justice Network, het haar skok en woede oor die voorval uitgespreek.
"Die huidige vlakke van geweld teen vroue is 'n nasionale krisis; tipiese reaksies is nie meer genoeg nie."
Die parlementêre portefeuljekomitee oor vroue, kinders en mense met gestremdhede het gesê seksmisdade in Bredasdorp het die afgelope twee jaar drasties toegeneem.
Die verkragting en verminking van Anene is wyd veroordeel, insluitend deur pres. Jacob Zuma, die Demokratiese Alliansie en die ANC-vroueliga.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA