Mans met olifantstande in winkel vasgetrek
2010-11-19 17:33
Johannesburg – Vier mans is by ‘n inkopiesentrum in Springs in hegtenis geneem toe hulle met drie olifantstande ter waarde van R15 000 betrap is, het die Gautengse polisie Vrydag gesê.
Die mans, tussen die ouderdomme van 26 en 43, was Vrydagoggend by Eastvale-winkelsentrum toe polisie hulle genader het, het kapt. Johannes Ramphora gesê.
Volgens Ramphora het die polisie die olifantstande in ‘n blou sak gevind wat die vier mans by hulle gehad het.
Hulle is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van olifantstande nadat hulle nie ‘n lisensie of dokumente gehad het om te bewys dat die tande wettig was nie.
Hulle sal Maandag in die Springs-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA