Mans met R2 milj. se perlemoen vasgetrek
2012-02-07 19:55
Kaapstad – Twee mans is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van perlemoen wat meer as R2 miljoen werd is, het die polisie in die Wes-Kaap Dinsdag gesê.
Die eerste man (34) is Maandagaand in Mitchells Plain in hegtenis geneem ná ‘n wenk dat perlemoen by sy huis afgelaai is, het ao. November Filander gesê.
Hy het gesê daar is beslag gelê op 2 522 perlemoene.
Die man sal Woensdag in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn.
‘n Ander man (35) is Maandag op die R44 in Gordonsbaai in hegtenis geneem vir die besit van 210 perlemoene wat sowat R250 000 werd is.
Volgens Filander het lede van “Operation Octopus” ‘n verdagte man in ‘n wit Toyota Hilux opgemerk.
Hulle het die voertuig afgetrek en het ‘n boks met perlemoen agter in die bakkie gevind. Hulle het die man in hegtenis geneem en die voertuig is in beslag geneem.
Hy sal Woensdag in die Strand-landdroshof verskyn.
‘n Chinese man is Maandag in Bellville in hegtenis geneem vir die besit van 5 736 gedroogde perlemoene.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA