Mans in ADT-uniforms steel R23 milj. se juwele
2012-04-12 13:00
Johannesburg – Drie mans wat in ADT-uniforms geklee was, het R23 miljoen se edelstene en diamante by ‘n sakeonderneming in Bedfordview gesteel, lui ‘n berig.
The Star berig die rooftog het plaasgevind nadat personeellede van AA Diamonds in die kantoorblok Wall of China verlede Vrydag om 14:00 huis toe gegaan het.
Luidens die berig het drie mans wat ‘n ADT-voertuig bestuur het, omstreeks 20:30 toegang tot die perseel gekry.
Twee wagte het die hek vir die mans oopgemaak omdat hulle gedink het die mans was wagte van die sekuriteitsmaatskappy.
Shibne Mohammed, eienaar van die sakeonderneming, sê een van die wagte het een van die rowers as ‘n werkgewer van ADT geïdentifiseer.
Die rowers het die wagte vasgebind en hulle na die kelder geneem.
Daarna het die rowers by die onderneming se kantore ingebreek en die alarm afgeskakel. Hulle het ook die veiligheidskameras se hardeskywe verwyder en deur ‘n 1 ton kluis, wat met staal versterk was, gesny.
“Hulle het tussen ses en agt uur gehad en een of ander swaar slypmasjien gehad; hulle was nie haastig nie,” het Mohammed gesê.
“Hulle [ADT] is veronderstel om ‘n goeie sekuriteitsmaatskappy te wees, maar hul eie mense het ons beroof,” het hy beweer.
Roy Rawlins, ADT se besturende direkteur in die streek, het aan die koerant gesê die saak word ondersoek.
Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die mans slegs hulself as ADT-wagte voorgegee het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA