Mans eersdaags in hof wat plaasgesin glo vermoor
2010-12-05 04:31
Bloemfontein - Ses mans wat in verband met die wrede moorde op 'n plaas by Lindley in die Vrystaat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die hof verskyn, het die polisie Saterdag gesê.
Volgens kol. Motantsi Makhele sal hulle in die landdroshof op Lindley van moord aangekla word.
Attie Potgieter (40), sy vrou Wilma (35) en hul driejarige dogter Willemien is Donderdag dood op die plaas aangetref.
Dit wil voorkom asof Potgieter doodgesteek is, terwyl sy vrou en dogter doodgeskiet is.
Drie verdagtes is op die plaas in hegtenis geneem en drie is op Lindley aangekeer.
Die meeste van die verdagtes is in hulle vroeë twintigs.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA