Nege agter tralies vir 'heksemoord'
2011-03-24 09:06
Beeld
Tzaneen - Nege mans is agter tralies nadat ’n ouma en haar kleindogter buite Tzaneen met klippe doodgegooi is omdat hulle van heksery verdink is.
Mapula Motopela (81) is Sondag uit haar huis in die Maake-nedersetting buite Tzaneen gesleep en met klippe doodgegooi. Sy is teruggesleep in haar huis in en dit is aan die brand gesteek.
Brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê Cynthia Lemaho (26), Motopela se kleindogter, is uit haar huis daar naby gesleep, ook met klippe doodgegooi en in haar huis aan die brand gesteek.
Woedende lede van die gemeenskap het Motopela en Lemaho van heksery beskuldig. Albei huise is verwoes. Mulaudzi het gesê die nege mans wat weens die moorde gearresteer is, is tussen 18 en 25 jaar oud.
Hy het gesê dit is die vierde voorval die afgelope drie maande waar mense in landelike gebiede van heksery beskuldig en dan of erg beseer of doodgemaak word.
“Daar is ’n tendens dat arm lede van die gemeenskap suksesvolle mense van heksery beskuldig.” Volgens hom dink die armes die welvarendes word suksesvol weens heksery. Dit is onduidelik wat die gemeenskap laat dink het Motopela en Lemaho is hekse.
Die nege verskyn eersdaags in die Maake-landdroshof.
- Volg Nuus24 op Twitter.