Manie van Dyk het langpad glo nóg langer gemaak
2011-11-05 07:44
Kaapstad - Dr. Manie van Dyk, die DA-LP wat derduisende rande van die parlement geëis het vir langafstand-padreise, het glo ook in 24 eise ’n langer afstand aangedui as wat hy werklik afgelê het sodat hy meer kon eis.
Só het Hendrik Schmidt, voorsitter van die DA se federale regskommissie, gister gesê nadat ’n lywige klagstaat vroeër gister in Pretoria op Van Dyk beteken is.
Schmidt het gesê Van Dyk sal in sy tugverhoor op 18 November op drie aanklagte moet antwoord. Dit is:
* Dat hy die party se gedragskode oortree het omdat hy ’n vergunning van die parlement misbruik het deur 81 keer vir padreise tussen Kaapstad en Pretoria te eis.
* Dat hy sy meerderjarige dogter as ’n begunstigde by die parlement geregistreer het om namens haar te kon eis. Luidens die reëls van die parlement kan ’n LP kinders as begunstigdes registreer indien hulle jonger as 27 jaar oud is en voltyds as ’n student ingeskryf is of nie ’n vaste inkomste verdien nie, en
* Dat hy 24 keer eise ingestel het vir ritte van die O.R. Tambo-lughawe na sy kiesafdeling (in Pretoria-Oos), maar die afstand na bewering vergroot het om die uitbetalings te verhoog.
Oor die eerste aanklag het Schmidt gesê ofskoon dit ’n vergunning van die parlement is dat lede vir padreise kan eis, moet dit nie uitgebuit word nie.
“’n Mens sou verstaan het as dit selfs 10 keer was, maar nie 81 keer nie. Dit moet binne perke geskied.”
Die Burger het in September verlede jaar onthul dat Van Dyk padreis-eise van R275 500 vir die boekjaar 2009-’10 by die parlement ingedien het.
Vir ’n rit padlangs tussen Kaapstad en Johannesburg kon LP’s ’n eis van byna R120 00 indien, terwyl ’n retoervliegkaartjie die parlement tussen R5 000 en R6 000 sou kos.
’n DA-subkomitee het in Junie vanjaar bevind nie die parlement óf die DA het ’n etiese kode vir die gebruik van reis- en ander voordele nie. Daar kon dus nie teen Van Dyk opgetree word nie.
Die Burger het ’n paar dae later onthul ’n deel van Van Dyk se eise in 2009 was vir naweekreise deur sy dogter, Wanya, en haar destydse verloofde, Reinhardt Downing.
Van Dyk het nie gister op versoeke vir kommentaar gereageer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger