Mangaung: Malema vra pos terug
2012-12-17 08:22
Kaapstad – Die voormalige president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, woordvoerder Floyd Shivambu en die geskorste sekretaris-generaal Sindiso Magaqa, het die ANC se nasionale kongres gevra om die besluit deur die party se tugkomitee (NTK) omver te werp en hulle in hul onderskeie posisies te herstel, het die Mail & Guardian Maandag berig.
Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het 'n omvattende verslag namens die geskorste jeugliga-lede aan die nasionale konferensie, wat tans in Mangaung plaasvind, oorhandig.
"Ons bly lojale ondersteuners en lede van die ANC wat gewillig is om onder leiding van sy grondwet en waardes gedissiplineer te word."
"Tot dusver het ons gekies om nie saak hof toe te vat nie omdat ons glo dat die nasionale kongres van die ANC die geleentheid moet kry om weer na die kwessie van die dissiplinêre proses, wat tot die huidige situasie gelei het, te kyk."
"Ons glo dat dissipline nooit gebruik moet word om politieke verskille te onderdruk nie, maar dat dit eerder gebruik moet word om kamerade op die regte pad te hou," het die verslag gelui.
Mantashe het egter gesê daar is geen waarborg dat dié kwessie by Mangaung bespreek sal word nie.
Malema is vroeër vanjaar van sy lidmaatskap onthef en Ronald Lamola dien tans as waarnemende president van die ANC-jeugliga.
Lees verder.
Volg Nuus24 op Twitter.