Mandjie kos nou R17,09 minder
2009-10-24 10:38
Kaapstad - Die verbruikersmandjie met noodsaaklike goedere vir Oktober kos hierdie maand R17,09 minder as verlede maand toe die totale mandjie altesaam R285,34 gekos het.
Vandeesmaand se mandjie kos R268,25. Dit verteenwoordig ’n daling van 5,98% in koste.
Kampvegter doen een keer per maand op dieselfde dag en by dieselfde supermark inkopies. Die doel daarvan is om vir ons lesers ’n aanduiding te gee van die lewenskoste.
Sou ’n mens die koste van die mandjie binne die konteks van inflasie plaas, is die Augustus-inflasiesyfer 6,4%. (Die September-meting van inflasie is nog nie bekend nie.)
Die maand-tot-maand-prys van petrol het ook van R7,82 in September tot R7,42 in Oktober gedaal.
Vervoerkoste is een van die groot faktore wat die prys van verbruikersgoedere beïnvloed.
Die prys van aartappels is weens ’n tekort in die mark steeds buitegenwoon hoog, terwyl daar beduidende dalings was in die byvoorbeeld die prys van mieliemeel (met R2) en tee (met R2).
- Die Burger