Mandela sal minagtingklag teenstaan
2011-12-27 07:26
Kaapstad – Hoofman Mandla Mandela (37), kleinseun van oudpres. Nelson Mandela, sal ’n aanklag van minagting van die hof teen hom en sy nuwe bruid, Nkosikazi Nodiyala-Mandela, teenstaan.
Mandela het Saterdag – ondanks ’n interdik wat sy vervreemde vrou, Tando Mabunu-Mandela, Donderdag in die hooggeregshof in Mthatha bekom het – met Nodiyala-Mandela in die huwelik getree.
Ingevolge die interdik, wat regter Nozuko Mjali toegestaan het, mag Mandela nie Saterdag met Nodiyala-Mandela getrou het nie. Hulle kan ook nie op enige ander tydstip trou terwyl hy nog met Mabunu-Mandela getroud is nie.
Mandela en Mabunu-Mandela is in 2004 getroud, maar is sedert 2009 in ’n egskeidingsgeding betrokke.
Haar regsverteenwoordiger, Wesley Hayes, het gister gesê hulle sal vroeg in die nuwe jaar ’n aanklag van minagting van die hof teen Mandela en sy nuwe bruid inbring.
Nodiyala-Mandela is Mandela se derde vrou. Hulle is ingevolge die gewoontereg getroud. Gewoontereg word nie deur die owerheid ingestel nie, maar spruit uit die gewoontes en gebruike van die mense.
Hayes het gesê sy kliënt is geregtig op die helfte van hul gesamentlike boedel. Mandela weier blykbaar om ál sy bates te verklaar. Hy het gesê Mandela het sedertdien ook van prokureurs verander en dit vertraag die egskeiding.
Intussen het Gary Jansen, vir Mandela, gesê Mabunu-Mandela is daarop uit om die Mandela-naam deur die modder te sleep.
Jansen het gesê die huwelik tussen Mandela en Mabunu-Mandela is onherstelbaar geskaad. “My kliënt wil haar die egskeiding gee, maar sy het die aanbod wat aan haar gemaak is van die hand gewys. Hoekom, weet ons nie.”
Jansen het gesê Mabunu-Mandela kan ook nie sê hoeveel hul gesamentlike boedel, volgens haar, werd is nie.
Vroeër vanjaar was Mabunu-Mandela suksesvol in haar hofaansoek om Mandela se huwelik met Anais Grimaud nietig te laat verklaar.
Jansen het gesê Grimaud is nie ongelukkig oor haar man se derde huwelik nie.
Mandela het verlede jaar met Grimaud getrou, ondanks ’n destydse hofbevel wat hom ook verbied het om nóg ’n vrou te vat.
In hofstukke sê Mabunu-Mandela sy en Mandela is binne gemeenskap van goedere getroud en hy mag, ingevolge die reg, nie meer as een vrou hê nie.
Sy het ook gesê as hy met nóg ’n vrou trou, raak dit die helfte van hul gesamentlike boedel waarop sy geregtig is.
Mandela is blykbaar ook aan prinses Sipheweyena Dlamini van Swaziland verloof. Hulle trou glo volgende jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger