Mandela loop WB-opening mis
2010-04-28 22:49
Nieu-Delhi - Die voormalige president Nelson Mandela gaan moontlik nie die openingseremonie van die Wêreldbeker-sokkertoernooi, wat in Junie plaasvind, bywoon nie.
Hy beplan glo om die toernooi van die huis af te geniet, het sy kleinseun Woensdag aan AFP gesê.
Die nuus sal vanselfsprekend sy aanhangers en vir Fifa, die organiseerders van die toernooi teleurstel, wat op sy seldsame teenwoordigheid gehoop het.
"Verseker nie. My oupa is op die stadium baie oud en ons probeer hom nie uit te put nie,” het Mandla Mandela gesê.
"Hy het gesê hy verkies dit om die toernooi vanaf sy huis in die platteland op die plaas te geniet,” het Mandela gesê, wat tans ‘n lid van die parlement is.
"Hy sal gedurende die Wêreldbeker die geleentheid kry om by sy huis in Qunu in die Oos-Kaap te rus.”
’n Amptelike besluit sal deur sy familie en die Nelson Mandela Vereniging geneem word soos wat die tyd nader kruip.
Sepp Blatter, die president van Fifa het verlede Vrydag gesê hy hou duim vas dat Mandela sterk genoeg sal wees om die eregas by die openingseremonie te wees.
Hy het bygevoeg dat sy oupa steeds gesond is en dat hy tans slegs met sy knieë sukkel weens drukking op sy gewrigte.
-Sapa-AFP