Man wou glo vier kinders ontvoer
2010-01-26 10:40
Marietie Louw-Carstens
Johannesburg - ’n Man wat chloroform en ’n byl by hom gehad het, is in hegtenis geneem omdat hy glo die vier kinders van twee bekende sakemanne van Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo wou ontvoer.
Jacobus Barend Rudolph Engelbrecht (40), beter bekend as Koos, het gister in die landdroshof in Bela-Bela verskyn.
Kapt. Johnny Thiyo, polisiewoordvoerder, het gesê Engelbrecht is Vrydag in hegtenis geneem.
Die polisie het inligting ontvang oor die moontlike ontvoerings en hom toe naby die Spar in die dorp in hegtenis geneem.
Beeld verneem hy het dokumente by hom gehad waarop die name van die vermeende slagoffers was.
Hy wou glo lospryse vir die kinders eis.
Dit is onbekend wanneer of hoe Engelbrecht die kinders na bewering sou ontvoer.
Dit is ook onbekend hoeveel hy as losprys wou eis.
Engelbrecht het verskyn op aanklagte van sameswering tot ontvoering en sameswering om moord te pleeg. Hy het ook op aanklagte van die besit van ’n gevaarlike wapen en die besit van dwelms verskyn.
Thiyo het gesê hy het glo chloroform (’n middel wat ’n mens bewusteloos kan maak) en ’n byl by hom gehad.
Twee mans is saam met hom in hegtenis geneem en was die naweek saam met hom in aanhouding vir ondervraging in die polisieselle in Bela-Bela.
Hulle sou hom glo help met die ontvoerings. Hulle het nie gister saam met hom in die hof verskyn nie. Thiyo het gesê die mans is vrygelaat en gewaarsku om weer in die hof te verskyn.
Roland Penzhorn, eienaar van Pick n Pay in Bela-Bela, het aan Beeld gesê hy het gister eers gehoor van Engelbrecht wat sy twee seuns (13 en 16 jaar oud) glo wou ontvoer.
Hy wou nie sy kinders se name verstrek nie. Dit is nie duidelik of net een van die seuns of albei ontvoer sou word nie.
“Ek het met polisielede op hoë vlak gepraat en hulle gevra om die saak behoorlik te ondersoek,” het Penzhorn gesê. Hy het gesê die voorval is baie ontstellend.
Mnr. Carel Coetzee, eienaar van die Spar op die dorp, het gesê dit is nog nie duidelik of sy seun en dogter moontlik ontvoer sou word nie.
“Ek is nie seker wat presies aangaan nie, maar ek wil weet wat aangaan. Ek wil agter die kap van die byl kom.”
Hy het ’n 13-jarige dogter en ’n 14-jarige seun.
“Dit is nie lekker om so iets te weet nie. Dit is boonop sleg om te dink so iets gebeur in so ’n klein dorpie,” het Coetzee gesê.
Engelbrecht woon in die Piet Wagner-woonstelle in Chris Hanistraat.
Hy is steeds in aanhouding en moet weer Maandag in die landdroshof op die dorp verskyn.
- Beeld