Man wou glo hondjie gaarmaak
2010-10-17 08:01
Rapport
’n Chinese winkeleienaar van Vredenburg aan die Weskus wat glo ’n hondjie geslag het en saam met aartappels wou kook, is betrap voordat hy dié afgryslike middagete kon berei.
Shu Xi Zheng besit die R3-winkel in die Markham-gebou in Hoofstraat op dié dorp.
’n Lid van die publiek het verlede Maandag op Zheng se kosmakery afgekom en Franco Maasdorp van die Cash Crusaders-winkel langsaan gaan roep oor “iemand ’n hondjie by die R3-store doodgemaak het”.
’n Geskokte Maasdorp het Zheng by ’n rooi skottel gevind. Dié het glo die hondjie, wat reeds dood was, aan sy voorpootjies in die lug vasgehou en was besig om die hare met ’n mes af te skraap.
Volgens Maasdorp was dit “beslis” ’n chihuahua met “sulke skerp oortjies”. ’n Swarte. Hy onthou ook die bakkie met klaar geskilde aartappels.
Volgens Maasdorp het Zheng opgekyk en doodluiters verder gewerskaf. “Ek was so geskok ek kon nie eens ’n selfoonfoto neem nie.”
Maasdorp het die polisie ontbied, wat met die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV), munisipale wetstoepassers, asook die brandweer, daar opgedaag het. Die sirenes het glo geloei.
Volgens getuies het Zheng intussen van die hondekarkassie en aartappels ontslae geraak en met Hoofstraat af die hasepad gekies.
Sy kassiere het met behulp van prente op ’n rekenaar aan die plaaslike media gewys dat Zheng “eintlik” ’n haas of konyn berei het.
Zheng het by sy terugkoms voorgegee dat hy nie Engels kan verstaan nie.
Die plaaslike polisie sê hulle kan Zheng weens ’n gebrek aan bewyse nie aankla nie.
Met Rapport se besoek aan Zheng se winkel was slegs die rooi skottel te siene.
By die klerewinkel langsaan het ’n winkelassistent, Anthea Arnolds, aan Rapport gesê die “allervreeslikste reuke” kom soms uit Zheng se winkel.
“Ons wou nie eens daaraan dínk wat dit kon wees nie. Vir ons is hondjies troeteldiere; iets waarvoor jy lief is.”
By verdere ondersoek het ’n neef van Zheng aan Rapport gesê hy wéét van dié se hond-etery en dat Zheng die swart hondjie vir R30 gekoop het.
Volgens die neef – wat op die toonbank geslaan het toe hy dit sê – het hy sy oom al baie gewaarsku.
“Ek het hom gesê, in China, baie honde, jy eet. In Suid-Afrika, min, jy eet nié.”
By die deur het ’n Xhosasprekende veiligheidswag kop geskud en gesê: “Honde is ons vriende. Ons eet hom nié. Aikôna!”
Die DBV het mense tot kalmte gemaan en gesê hulle moet hul selfone gereed hou. Indien hulle enigiets opmerk, moet hulle mik en druk.
- Rapport