Man wil Bybels brand
2010-09-10 13:06
Johannesburg – Daar is Vrydag aansoek gedoen vir ‘n hofinterdik om ‘n plaaslike man te verhoed om Bybels by die Library Gardens in Johannesburg te brand.
Dit is Mohammed Vawda se plan van protes teen ‘n Amerikaanse pastoor wat beplan om moontlik die Islam heilige boek, die Koran, in Amerika te brand.
Advokaat Zahir Omar, wat die Gauteng-gebaseerde organisasie die Scholars of the Truth verteenwoordig, het Vrydagmiddag by die hooggeregshof in Johannesburg aansoek gedoen vir ‘n interdik sodat dit verhoed kan word dat die Bybels gebrand sal word.
“Dit sal ‘n aksie wees wat deur Suid-Afrikaners in Suid-Afrika geneem word om die man te verhoed om vreedsame geloofsverhoudinge in die land te ontstug,” het Omar gesê.
Vawda beplan om die Bybels Saterdagmiddag in Johannesburg se middestad te brand en 11 September as “die dag waarop Bybels gebrand word” in Suid-Afrika vas te maak.
Omar sê hy beplan om te argumenteer dat Vawda geweld sal opstook deur sy optrede, wat as godslasterlik beskou word.
Vawda het Vrydag geweier om kommentaar te lewer en het gesê hy sal homself ná die verhoor uitspreek.
Pastoor Terry Jones van Florida in Amerika het wydverspreide kritiek ontvang oor sy planne om die Koran te brand as ‘n herdenking van die aanvalle in New York en Washington op 11 September 2001.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA