Man wat sy vrou doodskiet handig homself oor
2010-11-23 02:06
Bloemfontein – ‘n Vrystaatse man wat glo sy vrou en haar suster vroeër dié maand doodgeskiet het, het homself Maandag aan die polisie oorhandig, het ‘n woordvoerder gesê.
Volgens konst. Nomene Mokoale het die 45-jarige man homself omstreeks 07:00 by die Boithuso-polisiestasie in Botshabelo oorhandig.
Hy word daarvan aangekla dat hy sy vrou, Matau Mojaji, doodgeskiet het. Sy het glo nie meer saam met hom gewoon het nie.
Hy het haar glo by ‘n busstop genader toe sy op pad werk toe is.
“Niemand weet wat gebeur het nie, maar daar word beweer dat die verdagte ‘n vuurwapen uitgehaal het en haar in die kop geskiet het,” het Mokoale gesê. Sy is op die toneel dood verklaar.
Volgens Mokoale het die man ook glo na Matau se ouerhuis gegaan waar hy na bewering sy vrou se suster, Mmapaseka Marake, in die kop geskiet het. Sy is ook op die toneel dood.
Hy sal Woensdag in die Botshabelo-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA