Man wat meisie by skool gryp weer in hof
2011-11-11 11:16
Johannesburg – Die borgtogaansoek van Mohammed Adams sal Vrydag in die Roodepoort-landdroshof voorgesit word.
Adams word daarvan beskuldig dat hy 'n 18-jarige meisie in Oktober buite Hoërskool Die Burger in Florida wou ontvoer.
Ao. Boitumelo Mareko, ondersoekbeampte, het op 2 November getuig dat Adams borgtog geweier word omdat hy na die skool kan terugkeer en die meisie intimideer.
"Die staat het 'n sterk saak."
Die hof het gehoor dat die sekuriteitswag van die skool gesien het hoe die meisie se ouers haar 05:45 by die skool aflaai.
Die sekuriteitswag, die enigste ooggetuie, het gesê Adams het 'n rukkie later in 'n silwerkleurige motor by die skool opgedaag. Hy het uit die motor geklim, die kattebak oopgemaak, 'n skroewedraaier uitgehaal en die meisie genader.
Mareko het gesê Adams het die meisie aan haar elmboog en trui na sy motor gesleep en die meisie het begin skree.
Fazal Dawood, vir Adams, het aangevoer dat daar weens die De Waal-saak dalk 'n "oorreaksie" was.
Dawood het Mareko gekritiseer omdat daar nog nie 'n uitkenningsparade gehou is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA