Man wat hand verloor by hospitale geweier
2010-08-20 08:30
Johannesburg – ‘n 21-jarige man wat ‘n noodoperasie benodig het nadat sy hand afgekap is, is as gevolg van die staking deur die openbare dienswerkers by twee hospitale weggewys, het paramedici Vrydag gesê.
“In so ‘n geval is tyd noodsaaklik, want die weefsel kan doodgaan,” het Werner Vermaak, woordvoerder vir ER24 gesê.
“Paramedici het die man in Vereeniging gevind met sy hand wat afgekap is. Die hand is op ys geplaas en die pasiënt is na ‘n hospitaal geneem vir ‘n noodoperasie om die hand weer aan te werk.”
Die man is by beide die Charlotte Maxeke en Chris Hani Baragwanath hospitale weggewys toe stakende gesondheidswerkers dienste ontwrig het.
“Paramedici van ER24 moes die man per helikopter van Vereeniging na die Steve Biko hospitaal in Pretoria vervoer toe twee spesialis-hospitale in Johannesburg toe was,” het Vermaak gesê.
Vermaak het gesê dat ER24 sedertdien nie kon deurkom na die Steve Biko hospitaal om uit te vind hoe dit met die man gaan nie.
Volgens polisie-woordvoerder ao. Aubrey Moopeloa het die man se vriend sy hand tydens ‘n argument in Sharpeville met ‘n panga afgekap.
Volg Nuus24 op Twitter
– Is jy op een of ander manier geraak deur stakings? Stuur jou foto's of storie aan ons.
- SAPA