Man wat baba verkrag 22 jaar tronk toe
2012-06-02 10:56
Johannesburg – 'n Man is in 'n hof in Mthatha skuldig bevind aan die verkragting van 'n eenjarige meisie en tot 22 jaar tronkstraf gevonnis, het die Oos-Kaapse polisie Saterdag gesê.
Alberton Lungelo Ntozini, 22, het sy vriendin se kind op 11 Junie 2008 verkrag in Ndakana, Ngqamakwe, naby Butterworth, het kapt. Jackson Manatha gesê.
Ntozini is Vrydag skuldig bevind en gevonnis.
Hy het op die dag van die verkragting gesê hy wil met die kind speel.
"Die man het die baba in 'n latere stadium teruggebring huis toe, maar die ma het gesien die baba is rusteloos en haar geslagsdele ondersoek," het Manatha gesê.
Die vrou het agterdogtig geraak en die baba na 'n dokter geneem, wat bevestig het dat sy verkrag is.
Die ma het die insident by die polisie aangemeld, en Ntozini is ná 'n ondersoek in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA