Man wat R750 verdien, wen miljoene
2013-02-06 13:54
Johannesburg – ‘n Man van KwaZulu-Natal met 'n karige inkomste van R750 per maand het ‘n multimiljoenêr geword nadat hy die nasionale lotery gewen het.
Die 54-jarige man het byna R6,5 miljoen gewen nadat hy ‘n kaartjie van R20 vir die trekking op 19 Januarie gekoop het, het Thembi Tulwana, woordvoerder vir die nasionale lotery-operateur Gidani, Woensdag in ‘n verklaring gesê.
"Toe hy ná die trekking na ‘n winkel gaan wat lotery-kaartjies verkoop, het hy gesien hy het die wennommers... Hy het sy kaartjie later in sy skoen weggesteek."
Die nuwe miljoenêr, wat as stukwerker 'n inkomste verdien het, sê sy neef was die eerste persoon wat hy van sy wenkaartjie vertel het.
Ten spyte van sy nuwe rykdom het die man aan loterybeamptes gesê hy wil sy eenvoudige lewenstyl behou en ‘n huis vir sy kinders bou.
“Hy sal kan betaal dat sy kinders, wat tans in KZN woon, na hom in Johannesburg trek, waar hulle na van die beste skole sal kan gaan,” het Tulwana gesê.
Die man sê hy het drome gehad dat hy eendag sal wen en hy het altyd dieselfde nommers gekies.
“Hy het met ‘n sug van verligting aan die adviseurs gesê sy geld het op die regte tyd gekom,” het Tulwana gesê.
‘n Tweede wenner van dieselfde trekking moet nog sy prys eis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA