Man wag vir borgtog ná hy meisie by skool gryp
2011-11-02 16:05
Johannesburg – Die borgtogaansoek van die man wat daarvan beskuldig word dat hy 'n 18-jarige meisie buite 'n skool in Florida wou ontvoer, is in die Roodepoort-landdroshof uitgestel.
Landdros John Baloyi het die saak tot 11 November uitgestel omdat 'n uitkenningsparade nog gehou moet word.
Mohammed Adams (21) bly tot dan in aanhouding.
Die meisie se ma het vroeër 'n uitbarsting in die hof gehad.
"Jy het my dogter ontvoer," het sy huilend geskree.
Baloyi het haar gevra om die hof te verlaat.
"Ja, kyk vir my," het sy aan Adams se familie, wat na haar gekyk het toe sy die hof verlaat, gesê.
Ao. Boitumelo Mareko, ondersoekbeampte, het getuig dat Adams borgtog geweier word omdat hy na die skool kan gaan en die meisie intimideer.
"Die staat het 'n sterk saak."
Adams is verlede maand in hegtenis geneem nadat hy die meisie buite Hoërskool Die Burger wou ontvoer. Dít is dieselfde skool waar die vermoorde Louise de Waal ontvoer is.
Die 18-jarige meisie het omstreeks 06:00 op 'n sypaadjie naby die skool gesit toe Adams haar na bewering met 'n skroewedraaier dreig en haar forseer het om in die kattebak van sy motor te klim, het die polisie gesê.
'n Sekuriteitswag van die skool het gesien wat gebeur en het die polisie in kennis gestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA