Man, vrou van superfiets geslinger
2010-09-02 11:05
Durban – ‘n Man is Donderdag dood en ‘n vrou is in ‘n kritieke toestand nadat hul van ‘n motorfiets geslinger is op die M7 naby die Belville-afrit in Durban, het paramedici gesê.
“Na bewering was die twee na die stad onderweg toe die man op ‘n draai beheer oor die motorfiets verloor het,” het Jeff Wicks, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
“Die hoëspoed superfiets het teen ‘n keermuur langs die hoofweg vasgejaag en die man en vrou deur die lug laat slinger.”
Volgens Wicks het die man aan sy beserings beswyk voor paramedici op die toneel opgedaag het. Die vrou het ook ernstige beserings opgedoen en veg om haar lewe in die Addington-hospitaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA