Man voorspel oordeelsdag is oor net 100 dae
2011-02-07 09:06
Pretoria - Johannes Coetzee is ’n besige man. Sy wêreld vergaan oor net meer as 100 dae en die boodskap moet die wêreld bereik.
Coetzee is deel van ’n groep gelowiges wat glo die einde van hierdie bedeling breek op 21 Mei aan.
Dan, so glo hulle, sal die wederkoms van Jesus Christus plaasvind, gelowiges sal weggevoer word en ’n verwoestende wêreldwye aardbewing sal die planeet skud.
In die daaropvolgende maande sal chaos op aarde heers met lyke wat oral sal rondlê. Die finale einde breek op 21 Oktober aan wanneer die aarde met vuur verteer sal word en die nuwe hemel en nuwe aarde tot stand sal kom.
Coetzee laat hom nie van stryk bring deur die algemene oortuiging in kerke dat die dag van die wederkoms van Christus ’n geheim is nie.
Hy meen dis ’n leuen wat kerke verkondig op grond van ’n Bybelvers wat verkeerd vertaal is.
Hy glo ’n kalender kan uit die Bybel saamgestel word waarvolgens die aarde in die jaar 11013 v.C. gemaak is. Die sondvloed was in 4990 v.C, presies 7000 jaar voor die einde op 21 Mei 2011.
Dié insigte kom uit ’n Amerikaanse groep wat om die radiostasie Family Radio gesentreer is en wat die boodskap van die einde nou in 60 tale wêreldwyd verkondig.
Coetzee, vroeër ’n stads-en-streeksbeplanner, werk as vrywilliger vir hulle. Hy sê hy het hul boodskap gekontroleer en glo dit heelhartig.
Hy leef van sy spaargeld en sit nou alles in om die boodskap oor die naderende oordeel uit te dra.
Byna 1,5 miljoen pamflette met die boodskap op is al gedruk. Hulle het 300 000 daarvan in Kaapstad uitgedeel en nog meer in Johannesburg.
Die naweek het hy en sy medegelowiges in Pretoria gewerk.
Hy weet nie wat hy die laaste paar dae gaan doen en hoe hy die einde gaan inwag nie, sê Coetzee.
- Volksblad