Man voor ná hy glo buurvrou verkrag
2010-01-11 12:05
Johannesburg – ‘n 35-jarige man sal na verwagting Maandag in Vereeniging in die landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting.
Na bewering het die verdagte sy 18-jarige buurvrou verkrag.
Volgens insp. Aubrey Moopeloa, polisiewoordvoerder, het die verkragting Saterdagmiddag in Sharpeville se Tshepiso-distrik plaasgevind.
“Die verdagte het die slagoffer glo na sy huis genooi en die deur agter haar gesluit. Hy het haar ‘n R100-noot aangebied en sy het probeer vlug,” het Moopeloa gesê.
Die man het die tiener glo oorval en haar verkrag.
Lede van die gemeenskap het die slagoffer se noodkrete gehoor en die polisie ontbied.
Die verdagte is kort na die voorval in hegtenis geneem.
– Sapa