Man vermoor sy meisie se kind
2012-01-06 20:14
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo sy meisie se dogtertjie in Madikwe doodgesteek het, het die polisie in Noordwes Vrydag gesê.
Volgens brig. Thulani Ngubane het die 30-jarige man die driejarige dogtertjie Donderdagmiddag vermoor.
Die man het ‘b rusie met sy meisie gehad en toe hy haar by haar huis gaan sien het, het sy geweier om hom in te laat. Sy het haarself binne toegesluit.
Die man het gevolglik die vrou se dogtertjie, wat buite saam met ‘n vriend gespeel het, geneem, het Ngubane gesê.
‘n Familielid het die kind opgespoor en haar gille in ‘n huis gehoor. Die man het uitgestap met ‘n bebloede mes.
Die kind is op die toneel as gevolg van haar beserings dood.
Hy het homself gevolglik in die nek gesteek, maar hy is na ‘n hospitaal geneem en is Vrydag ontslaan.
Die man sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Madikwe verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA