Man vermoor broer ná argument oor drankgeld
2012-07-09 11:01
Johannesburg – ‘n Argument oor drankgeld tydens ‘n reinigingseremonie het oor die naweek tot ‘n man se dood gelei, het die Sowetan Maandag berig.
Die Nkuna-familie was in Mahwelereng se Sone B naby Mokopane, Limpopo, vir ‘n voorvader-reinigingseremonie toe twee broers glo oor R200 gestry het.
Lt.kol. Mohale Ramatseba, ‘n polisiewoordvoerder, sê die ouer broer het die jonger een glo in die maag, kop en gewrig gesteek. Die jonger broer is Saterdag omstreeks 17:00 op die toneel dood.
Die jonger man het sy ouer broer glo vir R200 gevra tydens die seremonie. Hulle was veronderstel om die alkohol wat hulle koop, te deel. Die jonger broer het al die geld glo self gebruik, wat sy broer woedend gemaak het.
Volgens Ramatseba is ‘n man in hegtenis geneem en hy sal na verwagting Maandag in die Mahwelereng-landdroshof verskyn.
Hy het ‘n beroep gedoen op families met huishoudelike geskille om hulp by professionele mense te kry, eerder as om geweld te gebruik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA