Man vermis nadat kano omslaan
2010-09-27 06:44
Johannesburg - ’n Man in sy twintigs word vermis nadat sy kano op die Vaaldam omgeslaan het.
Dick Manten, Vaaldam-stasiehoof van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gister gesê die kano het glo gisteroggend omgeslaan toe die man sowat 200 m van die Manten-vasmeerplek buite Deneysville in die Vrystaat op die dam rondgedryf het.
“Dit blyk die man het gisteraand (Saterdag) op die oewer van die dam gekamp en het vanoggend (Sondag) visgevang terwyl hy in die kano gedryf het.
“Dit is bevestig die man het nie ’n reddingsbaadjie aangehad nie,” het Manten gesê.
Die NSRI het kort ná 10:30 na die man begin soek en is later deur die polisie bygestaan.
“’n Uitgebreide soektog het nog geen resultate gelewer nie en die vermiste man het vermoedelik verdrink.”
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, kon gisteraand nie die naam van die man, wat toe nog weg was, verskaf nie.
- Beeld