Man, verloofde erg aangerand in plaasaanval
2011-11-18 14:07
Kaapstad – 'n 30-jarige man en sy 26-jarige verloofde is Vrydag in die vroeë oggendure deur drie mans op hul plaas buite Malmesbury oorval en erg aangerand, het die polisie gesê.
Die verdagtes het glo omstreeks 03:00 die agterdeur afgeruk.
"Nadat die verdagtes by die huis ingegaan het, het hulle geld en ander waardevolle items van die man en vrou geëis," het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.
Die verdagtes het die paartjie oorval en hulle met 'n byl en staalpyp aangeval. Die man het beserings aan sy rug, borskas, arms en bene opgedoen.
Nadat die verdagtes die man en sy verloofde 'n uur lank aangerand het, het hulle die huis geplunder en met wyn en 'n DVD-stelsel gevlug, het Van Wyk gesê.
Die 26-jarige vrou het toe die paniekknoppie gedruk, waarna die sekuriteitsmaatskappy en die polisie op die toneel aangekom het.
"Die man en vrou wat erg aangerand is, is vol bloed in die hoofslaapkamer gevind," het Van Wyk gesê.
Hulle is na 'n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling, maar die man is weens die erns van sy beserings na die Paarl Medi-Clinic geneem vir verdere behandeling.
Sake van poging tot moord en huisroof word ondersoek.
Persone met inligting kan ao. Joachim von Wielligh op 082 8904 414 of 022 482 2761 bel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24