Man verkrag meisie glo ná gesels op MXit, web
2010-08-07 08:01
Beeld
’n Soektog is van stapel gestuur na ’n man wat ’n 15-jarige skoolmeisie van Germiston glo bedwelm en verkrag het.
Die polisie, die teenmisdaadnetwerk eBlockwatch en ’n private speurder is op soek na die 27-jarige man wat ’n paar dae voor die voorval op die sosiale netwerk Facebook en die selfoonkletsdiens MXit met die meisie vriende gemaak het.
Die man, wie se Facebook-profiel intussen gesluit is, het 51 vriende, almal skoolmeisies, op sy profiel gehad.
Die man het die gr. 7-meisie glo Saterdagaand verkrag nadat hy haar na sy kothuis op ’n kleinhoewe in Crystal Park, Benoni, geneem en bedwelm het.
Die meisie het volgens haar ma, wat nie geïdentifiseer mag word nie om haar dogter se identiteit te beskerm, Saterdag 22:30 uit die huis geglip toe sy en haar man reeds gaan slaap het.
Die Facebook-“vriend” het haar opgelaai en na sy kothuis geneem. Sy is glo bedwelm toe sy met haar rug na hom gestaan en iets op die rekenaar gelees het.
Toe sy in die vroeë oggendure wakker word, was hy steeds besig om haar te verkrag. Hy het haar toe weer bedwelm.
Toe sy weer later wakker word, het die son geskyn en was hy nie in die kamer nie. Sy het haar klere en selfoon gegryp en haarself in die toilet toegesluit waar sy aan haar ma ’n Please call me-SMS gestuur het.
“Ek het eers nie die nommer herken nie, maar dadelik gebel en gehoor dit is sy. Ek het gevra of sy seer het en sy het gesê: ‘Nee, maar ek is verkrag. Kom haal my.’ Ek het nooit in my wildste drome gedink so iets sal met my dogter gebeur nie.
“Dit is ’n absolute nagmerrie,” het die ma gesê.
Toe die meisie se tannie-hulle saam met die polisie op die toneel opdaag, het die man met ’n wit Toyota Tazz verby hulle gejaag.
Die meisie se pa het gesê: “Ek is kwaad, geskok en die moer in. Die hele voorval het my uitgeput, maar ek is nie so moeg dat ek hom nie uitmekaar sal kan skeur nie.”
Kapt. Alfred Nakana, polisiewoordvoerder, het gesê hulle glo die man is nie meer aan die Oos-Rand nie.
“Ons dink hy het die Oos-Rand al verlaat, maar ek glo ons sal gou ’n arrestasie maak, want hy is bekend in die gebied.”
Hy het bevestig die meisie is verkrag.
- Mense wat inligting oor die man het, is gevra om eblockwatch.co.za te besoek.