Man verkla Malema van volksmoord in Den Haag
2010-06-08 06:33
Die Burger
Johannesburg – ’n Rustenburgse man en sy gesin is verlede week landuit omdat hulle vir hul veiligheid vrees nadat hy die ANC-jeugleier, Julius Malema, by die internasionale strafhof in Den Haag van volksmoord en misdade teen die mensdom verkla het.
Die ANC-regering en ander hooggeplaastes word ook aangevat. Hulle word nie by die naam genoem in die gedeelte van die dokument wat Die Burger gister gesien het en waarin die klagte vervat is nie. Hulle sal wel later geïdentifiseer word.
Die Rustenburgse man – wie se identiteit bekend is aan die hof in Den Haag, maar nog nie aan die media nie – was nie ’n misdaadslagoffer nie, maar het uitgebreide boerderybelange, het sy prokureur, Fanie van der Walt, gister gesê.
Hy sal volgens Van der Walt terugkom na Suid-Afrika en sy identiteit bekend maak sodra die hof in Den Haag sy veiligheid waarborg.
Van der Walt het die beskuldigings gister skriftelik aan die hof in Den Haag gestuur. “Dié hof sal die klagte nou ondersoek en dan moontlik ’n klagstaat met strafregtelike aanklagte formuleer.”
Malema word in die dokument daarvan beskuldig dat hy weke aaneen in die nasionale sowel as internasionale media gevra het boere moet vermoor word deur die gewraakte woorde “Skiet die Boere” te sing.
Hy het sy volgelinge daardeur ook tot volksmoord teen Afrikaanse boere aangehits.
As die hof in Den Haag die aantygings teen Malema ondersoek, sal die hof sien hy en ander hooggeplaastes gebruik die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika om volksmoord en misdade teen die mensdom te verbloem en bevorder, lui die dokument.
Daarvolgens is 2 380 Afrikaanse boere die afgelope 16 jaar vermoor. “Vroue is verkrag en mense is sonder enige rede gemartel. Die ANC-regering ontken die erns hiervan.”
Die Rustenburgse man steun in sy aantygings teen Malema en die ANC-regering op die Rome-statuut van die Verenigde Nasies wat in Julie 2002 in werking getree het. Daarvolgens kan selfs opsweping tot volksmoord as volksmoord geklassifiseer word.
Misdade teen die mensdom ingevolge internasionale reg sluit onder meer in moord, verkragting, slawerny, onwettige deportasie, onregmatige ontneming van persoonlike vryheid, marteling en gedwonge prostitusie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger