Man verdrink by strand in Oos-Londen
2011-12-11 21:00
Oos-Londen – 'n Visserman het by die Kayser-strand in Oos-Londen verdrink na hy deur sterk seestrome meegesleur is, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Sondag gesê.
"[Die man] het volgens berigte visgevang in vlak golwe toe hy deur seestrome meegesleur is en verdrink het," het die NSRI se stasiebevelvoerder vir Oos-Londen, Geoff McGergor, gesê.
McGergor het gesê die man was reeds deur 'n lid van die publiek uit die water gehaal toe die NSRI op die toneel aankom.
Paramedici het die man op die toneel dood verklaar. Hy was in sy veertigs, en was glo van Pretoria.
McGergor het vakansiegangers op die kus gewaarsku om versigtig te wees vir die springgety met volmaan – die sterkste gety van die maand – wat nog die volgende vyf of ses dae kan duur.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA