Man vasgetrek oor kinderpornografie
2010-10-08 08:03
Kaapstad - ’n Man (38) van Philadelphia naby Atlantis verskyn Vrydag in die Atlantis-landdroshof op twee aanklagte van verkragting asook die besit en vervaardiging van kinderpornografie.
Die man is glo ’n familielid van een van sy slagoffers.
Hy is Woensdag omstreeks 06:00 in hegtenis geneem nadat die polisie ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming en die deursoeking van sy huis bekom het.
Kol. Billy Jones, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het verlede week met sy ondersoek na die man begin nadat hulle klagtes oor hom ontvang het. Daar is in sy huis by ’n vakansie-oord langs die N7 op sy skootrekenaar, geheuekaarte en DVD’s beslag gelê. Pornografiese foto’s en DVD’s is glo ook gevind.
’n Ander polisiebron het gesê die slagoffers is twee meisies van agt en nege jaar oud. Die beskuldigde is glo ’n familielid van die agtjarige.
Die ouers van die ouer meisie het glo na die polisie gegaan toe hulle onraad begin vermoed het.
Die bron het gesê die beweerde verkragting het glo oor ’n tydperk van ’n jaar plaasgevind.
Die polisie het glo ook video’s en foto’s van die man se dade met die twee kinders gevind.
Intussen het Barbara Ras, ’n aktivis vir die regte van kinders en vroue in die Atlantis-omgewing, gesê in al die gevalle van die verkragting van kinders die laaste tyd was oortreders aan die slagoffers bekend.
Sy het gesê die regstelsel faal die kinders omdat die howe nie genoeg maatskaplike werkers of sielkundiges het wat slagoffers kan help met hul getuienis nie.
- Die Burger